OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se geboue en strukture weerspieël die ryke geskiedenis van die dorp.
Die dorp, wat in 1847 tot stand gekom het op die plaas van CP Rademeyer, se geskiedenis is nou verweef met die van die volstruisbedryf.
Die rykdom wat die volstruisveerbedryf in die laat 1800’s na die dorp gebring het, is tot vandag te sien in die flambojante sandsteen-herehuise wat met Victoriaanse elegansie versier is.
Van die bekendste sandsteengeboue is die CP Nel-museum op die hoek van Baron van Reede- en Voortrekkerstraat. Die gebou is ontwerp deur Charles Bullock, ‘n Britse argitek wat hom hier gevestig het. Die gebou, met sy elegante kloktoring, is in 1906 gebou as ‘n hoërseunskool. Die gebou is in 1912 uitgebrei om nog klaskamers en die Rembrandt-saal in te sluit. Toe die seun- en meisieskool in Jan van Riebeeckstraat in 1963 saamsmelt, het die gebou lank leeg gestaan. Dit het mettertyd vervalle geraak en in ‘n stadium is dit selfs oorweeg om dit te sloop.
In 1970 het die onderwysdepartement die gebou vir R1 aan die munisipaliteit verkoop, en in 1973 is dit amptelik as die CP Nel-museum geopen.
Die museum huisves uitstallings wat die volstruisbedryf uitbeeld, asook die ryke geskiedenis wat Joodse immigrante wat tydens die bloeitydperk van die verebedryf hul hier kom vestig het. Die museum huisves die volledig-herboude binnekant van die St Johnstraat Sinagoge. In die museum se argief is elke uitgawe van die Oudtshoorn Courant sedert 1879 ook bewaar.
Bullock was ook die argitek van die Le Roux-dorpshuis in Hoogstraat, wat in 1908/09 gebou is. Die huis het behoort aan John le Roux en sy vrou Adie van Bakenskraal. Na hul dood het hul dogter Rose, ‘n weduwee, in die huis gewoon. Sy het ‘n kluisenaarsbestaan gevoer en glo selde die hortjies oopgemaak, wat waarskynlik daartoe bygedra het dat die matte en gordyne behoue gebly het. Die huis is in 1980 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Nog 'n bekende gebou is Arbeidsgenot in Jan van Riebeeckstraat, wat die woning was van die bekende skrywer C J Langenhoven, wat onder andere die Die Stem, die ou volkslied van Suid-Afrika, geskryf het. Langenhoven, sy vrou Vroutjie en hul dogter Engela het hier gewoon, en na hul dood is die huis in ‘n museum omskep waarvan die binnekant nog lyk soos toe die gesin hier gewoon het. Langenhoven en sy vrou is in die tuin herbegrawe. Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees se kantore word tans hier gehuisves.
Die hangbrug in Kerkstraat oor die Grobbelaarsrivier, dateer ook uit dié era. Die brug, wat in 1913 deur die dorpsraad goedgekeur is, is deur ‘n Londense maatskappy ontwerp, deur ‘n Skotse firma vervaardig en stuk-stuk na Oudtshoorn gebring, waar dit deur Hal Fritz aanmekaar gesit is. Die brug met ‘n span van 91 m en twee 9 m-hoë torings, is in 1914 in gebruik geneem. Die brug is tans gesluit vir restorasiewerk.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'